Posted by: amandeltak | Februarie 22, 2010

Koningskap – 1 Samuel 8

Gereformeerde Kerk Hoedspruit

Sondag 21 Februarie 2010

Ds. LJE Venter

Titel:                Die Konings amp

Tema:              Gesalfde regeerder

Teks:               1 Samuel 8:1-22

Teksvers:        vers 7

Psalms:           Ps. 45:1, 4, 6 en 10

                        Ps. 103:10 en 11

                        Ps. 2:1, 3 en 4

                        Ps. 105:5

                        Ps. 48:1, 2 en 4

Inleiding

Geliefdes, vandag staan ons stil by die derde van die drie ampte in die Ou Testament, naamlik die Koningskap. Ons het reeds die afgelope twee weke stilgestaan by die amp van profeet wat handel oor die geroepene van die HERE wat as middelaar optree om die Woord van God te verkondig. Ons het ook stilgestaan by die priesters wat as middelaars optree om versoening te doen deur die offers.

Vandag dan, die koningskap, die regeer-amp.

Wat die koningskap in die Ou Testament behels, sien ons dat dit nie soos met die ander twee ampte deur God direk ingestel is nie. Die HERE het self die priesters aangestel deur die bevel van Moses en so ook het die HERE Self aan die profete Hom geopenbaar. Maar met die koningskap is dit anders.

Die rede hiervoor is vervat in die eerste gebod. Die HERE ons God is `n Enige Here. Hy alleen is die Enige ware Koning. So vorm die ampte van profeet en priester dan `n hulpmiddel as `n genadegawe waarmee God as Koning sy volk regeer.

En net soos dit is met elke Koning het Hy `n koninkryk. Dit is `n gebied waaroor hy heers, en mense wat binne hierdie gebied bly. Met God se Koningsheerskappy word hierdie regering beperk tot Israel alleen. Hoewel die nasies van die wereld God moet erken as Koning, is hulle nie sy volk nie. Israel alleen is die uitverore volk wat aan die HERE behoort.

God het egter reeds aan Abraham en Juda gese dat daar konings uit hulle nageslag sal voortkom. En ons sien hoe God deur Moses in Deuteronomium 17 ruimte skep vir `n aardse koning. Dat daar aardse konings kan wees, is dus nie verkeerd in die oe van die HERE nie.

Ons lees dat hy uit Israel moet voortkom. Hy mag nie baie perde he nie, en hy mag nie teruggaan na Egipte om perde te kry nie. Hy mag nie baie vrouens he nie en ook nie baie rykdom nie. Deut 17:18  En as hy op die troon van sy koninkryk sit, moet hy vir hom ‘n afskrif van hierdie wet in ‘n boek skrywe, uit dié wat voor die Levitiese priesters lê; en dit moet by hom wees, en hy moet al die dae van sy lewe daarin lees, dat hy kan leer om die HERE sy God te vrees deur al die woorde van hierdie wet en hierdie insettinge te hou, om dit te doen; sodat sy hart hom nie verhef oor sy broers nie en hy van die gebod nie regs of links afwyk nie; dat hy die dae kan verleng in sy koninkryk, hy en sy seuns, onder Israel.

So moet die koning dan deur die wet van die HERE die volk rig. Dit is om deur die Woord van die HERE die volk te lei in hulle onderlinge verhoudinge tussen die stamme.

Hierdie koning sal dan ook nie demokraties verkies word deur die volk nie, maar hy sal deur God self aangestel word.

Wat egter verskil van dit wat ons hier lees, is dat God self hierdie amp sou instel. Dit gebeur egter nie so nie, want die volk maak aanspraak op `n koning vir die verkeerde redes. Die volk wil nie `n koning op aarde he om hulle te rig en te lei in die wee van die HERE nie, nee, geliefdes, hulle wil `n aardse koning he om soos die nasies rondom hulle te wees.

Israel wil `n koning he om in te pas in hulle sosiale omstandighede. Hulle wil lyk soos die wereld lyk, en daarmee verwerp hulle die ware Koning, God.

Hulle wil nie meer deur God alleen gelei word nie, hulle wil `n aardse koning he wat vir hulle kan oorlog maak.

Daarmee kom die waarskuwing aan die volk! Die Here stel dit dan baie duidelik dat `n koning die volk moet lei en nie net oorlog voer nie, daarom mag hy nie baie perde he nie. Verder waarsku die HERE hulle dat hy hulle seuns en dogters sal neem en hulle sal sy slawe word, sal sy wingerde bewerk en in sy paleis dien.

Maar die volk wil nie luister nie. Hulle begeer om `n aardse koning te he, en dit in stryd met die bedoeling wat God daargestel het.

Die rede hiervoor is omdat God self die strydvoerder van Israel is. As die volk gehoorsaam is aan God deur die leiding van die koning op aarde, dan sal God self die stryd aanvoer teen hulle vyande.

Maar as die koning hulle verlei om met mag oorlog te voer, dan word God weggeskuif omdat hulle dan self die mag beklee.

God laat egter hierdie verkeerde koningskap toe. Hy beveel Samuel om te luister wat die volk vra en om aan hulle versoek gehoor te gee.

Daarop beveel Samuel die hele Israel om terug te gaan na hulle tente na hulle wonings toe. God sal self die koning aanwys en aanstel. En so kom dit dan op Saul. Saul is die eerste koning van die volk en hy word deur Samuel tot koning gesalf.

Hierdie salwing is die simboliese teken wat wys op die werking van die Heilige Gees. Die priester Samuel, salf Saul tot Koning. Dit wys daarop dat die Gees deur die Woord werk.

En dan kom die teleursteling van koning Saul, hoe hy gefaal het om die volk te lei in die wee van die HERE. Hyself word afvallig en later selfs ongelowig. Daarop kom Mefiboset en dan Dawid. Met Dawid sien ons die ware uitvoering van die koningskap van God, maar ook Dawid pleeg sonde.

Kan u sien broeder en suster, hoe onvolmaak is die mens om te dien in die amp van koning?

Hierdie totale mislukking van die mens om die ampte te kan beklee, net soos wat Samuel se seuns ook te kort skiet wys op die geweldige noodsaak van Hom wat hierdie ampte na heenwys.

Dit roep uit na die ware Koningskap. `n Koningskap wat nie tot `n val gebring kan word deur mense en sonde nie. Dit moet `n koningskap wees wat vir ewig duur. Hierdie Koning moet regverdig en barmhartig wees. Dit is die belofte van God aan die mens dat Hy sy Koninkryk sal herstel deur Een wat die slang se kop sal vermorsel. En hierdie koninkryk word dan opgebou deur God self, naamlik dat Hy onderdane aanstel op aarde om Hom te dien.

Deur die Ou Testament heen sien ons hoe hierdie koninkryk van God opgebou word. Deur die ampte word die HERE dan gedien. En daar was ook `n tempel waar God self teenwoordig was. Maar die mense het egter in hulle ongehoorsaamheid volhard sodat God uit hierdie tempel gewyk het.

Daar was geen hoop meer vir die mens nie. Dit was asof daar geen vooruitsig was dat die mens weer met God as Koning kon leef nie. Dit is juis wanneer die aardse koninkryk op `n hoogtepunt is, dat God sy Seun stuur om sy koningskap en koninkryk op die aarde te hervestig.

Ons weet wie hierdie Koning is. Reeds ins Dan 7:13-14 lees ons van hoe hierdie koms van die Messias sal wees:  Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom.  En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.

Dit is ons Here Jesus wat Koning is, wat mens geword het. Sy Koningskap is nie `n aardse koningskap nie, maar ewig in die hemele. Hy het sy koninkryk ook hier op aarde gevestig deur die krag van die Heilige Gees. En Hy regeer oor hierdie ryk deur alle dinge te onderhou.

In Christus het God sy Koninkryk herstel. Hierdie Koninkryk in Christus is die koninkryk van God wat tot by ons gekom het. Deur die menswording van Christus en die soenoffer wat Hy gebring het, het dit moontlik geword dat die Koninkryk van God in ons kom.

Met sy hemelvaart bevestig Hy sy koningskap en Hy bevestig die andersheid van sy Koninkryk. En as Koning gaan sit Hy op sy troon in die hemel vanwaar Hy regeer as ewige Koning. Dit is sy verheerliking.

Hierop volg die belofte wat voortspruit uit Christus se verheerliking as Koning naamlik die uitstorting van die Heilige Gees, of soos dit bekend is, die Pinkstergebeure.

Die Heilige Gees word uitgestort sodat die Koninkryk van God op aarde kan realiseer. Dit wat Christus begin het, word deur die werking van die Gees voortgesit. Ons kan se die uistorting van die Heilige Gees is die realisering van die Koninkryk van God op aarde van die gebeurtenis wat in die hemel plaasvind. Ons lees daarvan in Hand. 2:32 – 36 Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is. Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor. Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie, maar hy self sê: Die Here het gespreek tot my Here: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete. Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het.

So word Jesus deur die uitstorting van die Gees die een wat sy koninkryk in ons oprig. Dit is Christus-in-ons. Want sy koninkryk is deur die inwoning van die Heilige Gees.

Maar dit is ook die koninkryk van ons-in-Christus. Wat met Christus gebeur is ook wat met ons gebeur. Hy word gekruisig en ons word saam met Hom gekruisig. Hy het opgestaan en ons staan saam met hom op.

Dit is die uitstorting van die Heilige Gees wat die koninkryk binne elke gelowige vestig.

Nou is die koninkryk van God in ons. Daar is geen meer tempel nie, want ons is die tempel. Die kerk , naamlik die mense wat die kerk is, is die inwoning van God se koninkryk. In Christus, deur die inwoning van die Heilige Gees word ons weer burgers van die koninkryk van God. En Hy regeer hierdie koninkryk deur sy Woord en Gees. In hierdie koninkryk is daar net Een Koning en net Een stel reels wat geld. Hierdie Koning is die Een aan wie alle dinge onderwerp is.

Net soos dit is met elke koninkryk is daar vyande. En die vyande van die Koninkryk van God is van die begin af in stryd met hierdie koninkryk. Om deel te wees van hierdie koninkryk beteken dat ons ook deel is van die stryd tussen God en sy vyande.

God vernietig elke mag en opstand teen Hom. Hy verdra  nie onluste in sy koninkryk nie. Daarom moet ons versigtig wees, geliefdes, dat ons nie die kerk wil verander om soos die wereld te lyk nie. Want daar is baie stemme in die kerk wat opgaan deur te se die kerk moet aanpas by die tydsgees, want soms lyk dit tog vir ons of die ryk van God hier op aarde verdryf word. Soms dink ons die werke van die duiwel oorskadu die genade van God. Dit wil vir ons voorkom asof ons stryd teen hierdie helse mag `n taak is wat ons nie sal kan doen nie, en ons moet alle moontlike hulpmiddels gebruik, al moet ons die kerk verander.

Ja, die kerk moet stry teen die satan en teen die sonde, maar dit is onmoontlik vir ons om hierdie mag te oorwin. Daarom broeders en susters, is ons enigste troos in die werke van God. Dit is nie die kerk wat teen die Satan stry nie, maar God! Hy is die een teen wie gestry word, en as ons soos Israel self wil oorlog maak en die sryd self wil aanvoer, dan sal ons verloor.

Dit is nie die kerk se taak om die duiwel te soek om elke hoek en draai en hom dan voos te wil slaan nie. Nee, geliefdes, die taak van die kerk is gehoorsaamheid aan die Koning. Want ons enigste troos, in lewe en sterwe, is dat ons aan Christus Jesus behoort.

Die feit dat u en ek, dat die kerk nie die stryd moet aanse nie, wys daarop dat Christus reeds hierdie mag oorwin het.Ons stryd is daarom nie teen vlees en bloed nie, maar teen die sonde.

Die laaste vyand is die dood. Christus het reeds die dood oorwin aan die kruis. Daar waar Hy gehang het tussen hemel en aarde, waar die hel op Hom neergedaal het en Hy lewendig aan die kruis die smartedood van die ewige hel gedra het.

Daar geliefdes, het Christus die dood oorwin sodat daar weer lewe kan wees. Daar het Christus deur die dal van die dood gegaan sodat u en ek dit nooit hoef te vrees nie.

Maar Hy het ook gesterf soos `n mens, en is begrawe. Maar sy graf is leeg. Hy het uit die aardse dood ook opgestaan. Dit is hierdie dood wat nog `n mag oor ons het. Dit is hierdie dood wat ons soms nog laat huil. Wat ons nog hartseer maak.

Alleen in Christus is daar vir ons vertroosting. Alleen in Christus word ons vry van hierdie mag van oorheersing sodat ons gewillig kan stry. Nie ons stryd nie, maar `n stryd in Christus. Want in Christus is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons die krag gee.

Daarom bid ons dat die koninkryk van God sal kom, sodat Hy ons gewilliglik onder Hom sal onderwerp. Dat Hy ons sal regeer deur sy Woord en Gees, en dat ons Hom as Koning sal erken. Dit is om te bid dat die Here ons sal bekeer, sodat ons onsself sal bekeer.

Daarom, as ons net in hierdie lewe op Christus sou hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense. Dan is ons hoop net vir hierdie wereld, en dit is te vergeefs.

Want God se koninkryk is `n ewige koninkryk. Hy regeer van ewigheid tot ewigheid. Hy bepaal die wereldgeskiedenis. Hy is die Een wat uit die stof van die aarde die mens kan maak.

Broeder en suster, God het ons deel van sy Koninkryk gemaak in Christus, dat ons Hom kan erken as Koning!! Dat ons ons hele lewe kan toewy om God se Naam te verheerlik in sy koninkryk. Daarom vestig Hy sy konikryk in ons, dat ons Hom kan verheerlik in en deur sy Koninkryk. As God ons nie verlos van die boosheid van hierdie wereld nie, sal ons nooit sy Naam kan heilig nie.

As konings dan moet ons die taak van regering reg uitvoer. God het nie hierdie amp aan ons oorgedra nie, maar opgedra. Ons is slegs rentmeesters van die koningskap en in die koninkryk van God. En so geliefdes, moet ons hierdie regering reg uitvoer in die koninkryk. Elke lidmaat moet as koning oor sy besittings regeer. Ook die ouderlinge moet die gemeente reg regeer. En so ook die ouers. Die man moet sy huisgesin so regeer dat elke gelowige in daardie huis sy of haar amp gewillig kan uitvoer.

Wie is Koning in jou lewe? Wie is die een wat die gesag is onder wie jy jouself onderwerp?

Is dit die reg van jou menswees? Dat jy `n reg het om te leef? Of `n reg het om jou kinders groot te maak soos jy wil? Of dat jy `n reg het om die Here te dien soos dit jou pas?

Of is God jou Koning aan wie jy jouself onderwerp dat Hy jou kan regeer deur sy Woord en Gees?

Deur die wonderbare Majesteit van sy mag het Hy ons ook as konings aangestel om te regeer op aarde. Nie dat ons namens Hom regeer nie, maar juis dat ons rgeer volgens sy bevel.

Laat ons dan hierdie koningskap uitvoer, want die groot Koning is besig om sy Troon te bestyg en Hy sal oordeel en rekenskap neem. Mag Hy dan se: goed so, getroue dienskneg, dat ons saam met die triomferende kerk die lied van die Lam mag sing in die ewige Jerusalem.

Daar waar daar geen stryd meer sal wees nie, en geen sonde nie. Daar waar ons in harmonie sal leef saam met die ewige Koning is sy tempel, waar ons as gesalfdes met die Heilige Gees saam met Hom sal leef en regeer tot in ewigheid.

AMEN

Advertisements
Posted by: amandeltak | Februarie 22, 2010

Priesterskap – Levitikus 8

Gereformeerde Kerk Hoedspruit

Sondag 14 Februarie 2010

Ds. LJE Venter

Titel:                Priesterskap

Tema:              Vul jou hande!

Teks:               Levitikus 8

Teksvers:        vers 10-11

Psalms:           Ps. 150:1 en 3

                        Ps. 40:3 en 4

                        Ps. 110:3, 5 en 6

                        Ps. 134:1, 2, 3 en 4

Inleiding

In hierdie gedeelte wat ons gelees het, sien ons hoe die HERE die amp van priester ingestel het. Aaron en sy seuns word aangestel om diens te doen in die Tabernakel voor die aangesig van die HERE.

Hierdie instelling kom by die berg Horeb, die berg van God. Daar waar God aan die volk die Tien gebooie gegee het, het Hy hulle ook beveel hoe om Hom te dien. Ons lees van hierdie instelling in Eksodus hoofstuk 24 en verder. Daar sien ons hoe die HERE Moses beveel om eers die Tabernakel, die Tent, die woonplek van die HERE te bou.

En as die HERE `n woonplek het, stel Hy ook diensknegte aan om in hierdie huis te dien.

Om kortliks u geheue te verfris noem ons dat hierdie Tent van God, die Tabernakel, die wyse was waarop God onder sy volk teenwoordig was. Hy was sigbaar in die Tabernakel teenwoordig.

In Hierdie tent is daar `n voorhof, die heilige en daar is die allerheiligste. Binne in die allerheiligste was daar die wierookaltaar en die verbondsark. Die verbondsark het `n versoendeksel gehad waar daar versoening vir die volk gedoen moes word. God het van hierdie versoendeksel met die Gerubs wat daaroor troon met Moses gespreek en so ook met die Hoepriester. Die heilige en die allerheiligste was geskei met `n voorhangsel. Selfs die priesters mag nie daar ingegaan het of daarbinne gekyk het nie, want dan sou hulle sterf. Die rede hiervoor is omdat daar geen vrye toegang tot God was nie, omdat daar nie versoening is tussen God en die mens nie.

Binne in die voorhof en die heilige kon slegs die priesters dien, want hulle was afgesonder alleen vir diens aan die Here .

Wat die priesteramp anders maak is dat die HERE hulle nie soos met die konings en profete op dieselfde wyse roep of aanstel nie. Hoewel dit anders is met Aaron en sy seuns, omdat die HERE hulle spesifiek roep en aanstel, kan geen persoon `n priester wees as hy nie uit die geslag van Levi of nakomeling van Aaron is nie.

Aanvanklik was al die eersgeborenes afgesonder gewees om te dien voor die HERE, maar met die verval van die volk by Sinai met die bou van die goue kalf, het die HERE die stam van Levi afgesonder, saam met die nageslag van Aaron om te dien as priesters.

In die huis van God moes daar dienaars wees. Ons lees van die opdrag aan Moses om die priestersamp in te stel in Eksodus 28 en verder. Maar ons wil graag stilstaan vandag by die uitvoering van die priesteramp, soos dit beskryf word in Levitikus 8.

Die Priesters was dus manne wat afgesonder is tot diens aan die HERE. En hierdie diens was heilig, omdat God heilig is. Hierdie heiligheid het vereis dat die priesters aan geen onrein ding mag raak nie, en hulleself gedurigdeur moet was en skoonmaak en heilig.

Dit was dus `n instelling van God dat die priesters baie noukeurig alles moes doen wat die HERE deur Moses aan hulle beveel het. Hulle moes sekere klere dra, wat baie heilig was, en daarmee saam moes hulle sekere rituele binne die tabernakel doen, naamlik om te dien voor die HERE en versoening te doen deur die bloed van die offers, maar ook sekere rituele buite die tebernakel soos van die brand van die offers.

Die priesters was dus net soos die profete middelaars gewees tussen God en sy volk. Hulle het ook die Woord van die HERE gespreek, maar anders as die profete. Die profete was buite tussen die mense, die priesters was afgesonder in die tabernakel voor God.

Die belangrikste taak van die priesters was om te offer. Hulle het die offers van die volk ontvang en moes dit aan die HERE op die regte wyse offer om versoening te doen vir die volk voor die aangesig van die HERE. Ons sien in hoofstuk 10 hoe die twee seuns van Aaron, Nadab en Abihu sterf omdat hulle `n vreemde offer bring wat die HERE hulle nie beveel het nie.

Die hoofsaak van hierdie offers het gehandel oor die bloed. Want in die bloed is die lewe. Anders egter as die heidense volke, het die priesters nie die bloed gedrink om die krag van die gode daardeur te ontvang nie, maar hulle moes die bloed uitgiet en opsprinkel as simbool van lewe wat aan God behoort.

Dan was daar ook die hoepriester. Daar was slegs een hoepriester, want hy is die een wat een maal `n jaar die skuldoffer voor die HERE in die allerheiligste moes bring. Hierdie hoepriester was die een wat namens die priesters voor die HERE moes dien.

Sy klere was hoogheilig. Hy het `n onderrok aangehad van fyn linne met `n blou mantel bo-oor. Dit moet in een stuk geweef wees. Dan het hy ook die efod aangehad, dit is die linne-skouerkleed. Hierop was die borstas of borsstuk wat versier was met 12 edelgesteentes, wat die 12 stamme van Israel veteenwoord. Nl. Die hele volk.

Dan was daar ook Urim en die Tummim binne in die borstas, die twee stene wat gebruik was om Godspraak te lewer.

Dan het die hoepriester ook `n tulband om sy kop gehad met `n goue plaat voorop waarop daar geskrywe was: geheilig aan die HERE.

Al hierdie dinge was simbolies en het heengewys na die hemelse Tabernakel, die ware woonplek van die HERE.

So het die hoepriester dan diens gedoen, saam met al die priesters. Hulle moes die offers van die volk aan die HERE bring sodat hulle as middelaars kan optree tussen God en sy kinders. Een maal `n jaar was daar dan die groot Versoendag. Op daardie dag mag niemand diens doen nie, want hulle moet versoening bewerk voor die aangesig van die HERE hulle God.

Dit is hier waar die Hoepriester alleen een maal `n jaar in die allerheiligste ingaan en daar offer. Hy moes eers `n offer bring vir sy eie sonde, en dan moes hy `n offer bring vir die sonde van die volk. Hierdie offer het hy deur bloed gebring. Die kalf en die bok moes geslag word, en met `n hissop takkie moes die Hoepriester dan oral oor met die bloed besprinkel. Dan moes hy die bloed aan sekere plekke smeer van die altaar en aan homself en die res daarvan uitgiet rondom die offeraltaar. As hy hiermee klaar was moes hy die bloed van die bok oor die volk besprinkel sodat hulle ook versoen kon word.

Hierdie rituele was `n skadubeeld van die werklike hemelse bediening. Die offers en die rituele wat die priesters en die hoepriester gedoen het, was slegs `n heenwysing na die volkome en ware offer wat as belofte gegee is. Dit was nie `n beeld van hoe dit in die hemel presies gebeur nie, mar `n uitbeelding.

Maar hierdie offers was self nie genoegsaam vir die verlossing van die volk nie en het dit slegs heengewys na die volkome offer. Sonder hierdie volkome offer, beteken die versoening van die offers deur die bloed van die stiere en bokke niks.

Want hierdie offers wys heen na die heel grootste offer van die groot Hoepriester. Dit is hier waar die tweede bediening van hierdie selfde verbond van krag word, soos beskryf in Hebreers  9:11  Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, 12  ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.

Christus is Hoepriester. Hy is nie uit die geslag van Levi, soos Aaron en al die geslagte na hom nie, maar Christus is volgens `n ander orde Hoepriester. Hy is Hoepriester volgens die orde van Melgisedek.

Ons lees van hierdie Melgisedek in Genesis 14 waar Abraham aan hom `n tiende van sy besittings gee. Melgisedek was die Koning was van Salem. Dit beteken hy was koning van geregtigheid oor die stad van vrede. Sy priesterskap was nie soos Aaron van geslag tot geslag oorgedra nie, dit is `n ewige priesterskap. Hierdie priesterskap hou nooit op bestaan soos Aaron wat sterf en nie meer kan hoepriester wees nie.

So het Christus opgetree as Hoepriester van die toekomstige weldade deur `n groter en volmaakter Tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil se nie van hierdie skepping is nie. 

Aaron en die hoepriesters het versoening gedoen, maar die versoening was slegs geldig vir `n tyd lank. Daarom moes die hoeprietser elke jaar weer versoening doen, en daarom moes daar elke dag offers gebring word. Hulle moes in die tabernakel ingaan wat `n fisiese tent was. Christus daarenteen, het in `n tabernakel ingegaan wat nie van hierdie skepping is nie, wat nie met die hande gemaak is nie.

Hierdie tabernakel is sy liggaam. Christus se liggaam is die tempel, die tabernakel waarby Hy ingegaan het om versoening te doen. Hy offer deur sy liggaam. Maar Hy het nie soos die hoepriester nodig gehad om eers vir sy eie sonde versoening te doen nie, want Hy het geen sonde gehad nie. As Hy dan versoening doen, doen Hy versoening net vir die volk..

Die altaar waar Hy hierdie offer bring is nie op aarde nie, maar in die hemel voor die troon van God. Want Christus se koninkryk is nie `n vleeslike koninkryk met lappe en doeke en offers nie, maar `n Geestelike koninkryk. Sy offer is `n Geestelike offer.

En sy offer word ook met bloed gebring. Maar dit bedoel nie bloed soos die fisiese bloed hier op aarde nie. Dit gaan oor die testament van sy bloed waarmee Hy die offer bring. In Genesis 2 verkondig die Heilige Gees aan ons, dat God die asem van die lewe in die mens geblaas het, en die mens het `n lewende siel geword. Dit beteken dat die mens die ewige lewe ontvang het, want daar was geen dood nie. Adam was dus die draer van die lewe. Ons lees dan verder in Genesis 9 dat God die mense beveel dat hulle nie die bloed mag eet nie, want die siel is in die bloed. Die lewe is in die bloed.  As Christus dan met sy bloed offer, beteken dit dat Hy sy lewe offer.

Ons kan se, dit is lewensasem wat Christus offer. Met sy kruisiging dan sien ons ook hoe daar aan ons verduidelik word hoe hierdie offer van lewe plaasvind. Christus hang aan `n kruishout tussen hemel en aarde. Dit is `n geweldige vervloeking want daarmee word gesimboliseer dat jy niks werd is nie. Jy hoort nie op die aarde nie, en jy hoort nie in die hemel nie. Daar is geen plek vir jou nie, daarom hang jy tussen hemel en aarde.

Met hierdie vervloeking wat plaasvind, gebeur hierdie geweldige daad van die lewensoffer. God draai sy aangesig van Christus af weg. Nie dat God Hom verlaat nie, maar dat God se volle toorn, sy ewige verdoemenis op Christus uitgestort word terwyl Hy nog in die lewe is. Christus gaan die dood binne wat u en ek moet ontvang.

So offer Christus dan as Hoepriester met sy bloed, met sy lewe `n versoeningsoffer. Want sonder bloedvergieting is daar geen verlossing nie, daar is geen vergewing van sondes nie. Bloedvergieting is verlossing. Hy gaan deur sy liggaam in die hemelse heiligdom en offer sy lewe. Daar kom duisternis, totale donkerte, sodat u en ek nooit sonder lig sal wees nie. Daar skeur die voorhangsel van die allerheiligste middeldeur. Dan word die skeiding tussen God en mens herstel. Dan kan ons ingaan voor die troon van God in die hemel waar daar geen voorhangsel is nie en ons sterf nie. Want Christus is die Voorhangsel. Hy is die muur van skeiding.

Dit is genade deur verdienste. As Christus dan die woorde uitroep: “Vader, in u hande gee Ek my Gees oor” dan is dit die Heilige Gees wat die lewe is. Dan gee Christus die Gees. Sodoende word u en ek begenadig dat ons dieselfde Gees ontvang. Die Gees wat ons die weldade van Christus meedeel.

Nou is daar deur die Hoepriester geoffer, eenmaal, as `n ewige offer. Hierdie offer kan nie vervang of verander word nie. Dit is `n offer wat ewige verlossing bewerk. `n Testament slegs van krag is wanneer die Testamentmaker sterf.

Die belofte van versoening is alleen geldig as die Testamentmaker die belofte, die Testament van krag maak. En as hierdie Testament van krag is, kan dit nie meer verander nie. Dan is die uitbetaling van die Testament vas en seker. Die testament is die belofte van verlossing, `n ewige erfenis.

Geliefdes, op hierdie dag staan ons ook voor die aangesig van God met bloed. Nie bloed van bokke en kalwers nie, maar die bloed van Christus. Want God wil nie offers he nie. God begeer nie offers nie, Hy begeer dat ons sy wil doen. Maar ons kan nie. Net Christus kan. Daarom is dit alleen moontlik om die wil van God te doen deur Christus.

Dit is hierdie wil van Christus wat ons heilig deur die offer van sy liggaam. Dit is die Nuwe Testament in sy bloed. Dat die wette van God op ons harte geskryf word en daar vergifnis is van die sonde. Dat ons die wil van God deur Christus kan doen.

Daarom moet ons ook die selfondersoek doen nou invoorbereiding vir die Nagmaal wanneer ons die wyn gaan drink. Want die wyn is die Nuwe Testament in sy bloed. As ons hierdie wyn drink, dan dink ons aan die Geestelike offer van Christus en ons drink sy Bloed. Ons word deur hierdie bloed gereinig.

En net so as ons gaan eet, dan eet ons die liggaam van Christus. Want sy liggaam is dit waaraan ons deel het. En so seker as wat ons hierdie brood eet, so seker het ek deel aan die liggaam van Christus. So seker eet ek die Liggaam van Christus, want sy liggaam voed en versterk my.

Nou kan ons verby die aardse karakter van die offer van Christus kyk en ons kan Hom in die Gees ken. Hy wat gaan sit het aan die regterhand van die Vader en wie regeer oor die ganse skepping as Koning. So is Hy vir ons die Wegbereider na die troon van God. En deur die Gees kan ons getuig wat die wil van God is.

Nou is daar nie meer offers nodig om versoening te doen nie, die volkome offer is gebring. Daarom moet ons onsself as offers aan God gee. Ons moet onsself stel as lewende, heilige en aan God welgevallige offers.

In Christus het ons deel aan die heerlikheid van God, en word ons ook priesters. Nie priesters wat bokke moet offer nie, maar onsself.

Laat ons dan ons hande vul, dat ons nie vreemde vuur voor die aangesig van die HERE bring deur te offer wat ons wil nie, maar dat ons die wil van God alleen mag doen.

AMEN

Posted by: amandeltak | Februarie 8, 2010

Profeetskap – 7 Febraurie 2010

Gereformeerde Kerk Hoedspruit

Sondag 7 Februarie 2010

Ds. LJE Venter

Titel:                Profeetskap

Tema:              So se die Here HERE

Teks:               Deuteronomium 18v9-22

Teksvers:        Vers 18,19

Psalms:           Ps. 18:1 en 14

                        Ps. 19:4 en 5

                        Ps. 33:2, 3 en 5

                        Ps. 84:5 en 6

Inleiding

Geliefdes, almal van ons ken die speletjie: telefoontjie. Dit is `n speletjie wat ons gespeel het toe ons kleiner was. Al jou vriende kom sit in `n kring, en dan moet een `n boodskap in die volgende een se oor fluister. So moet die een maat die boodskap oordra na die volgende maat totdat weer gekom het by die een waar dit begin het, met die doel dat die korrekte boodskap oorgedra word. En dan kom daar baie selde dieselfde boodskap uit wat die eerste persoon gese het omdat elkeen maar `n stertjie aanlas.

Maar net so leef ons ook as boodskap draers elke dag. Jy hoor `n klomp dinge, en dan moet jy uitmaak wat waar is en wat nie. Met ons as mense is dit veral `n stryd, want somtyds kan daar soveel van `n persoon gese word wat nie waar is nie. So `n persoon wat skinderpraatjies maak van ander, word dan ook baie vinnig geken onder die mense. So `n persoon is onbetroubaar om `n boodskap korrek oor te dra.

Dit is op hierdie wyse en onderskeiding wat die profete opgetree het. Hulle was boodskapdraers wat moes vertel wat aan hulle gese is. Die HERE het Hom aan die profeet geopenbaar deur `n boodskap of visioen, en dan moet die profeet hierdie boodskap net so weer aan die volk oordra, met die woorde: so se die Here HERE!

Vervolgens wil ons in aanloop tot Nagmaal aan die einde van die maand, stilstaan by die drie ampte in die Ou Testament, nl. profeet, priester en koning. Met Nagmaal sal ons kyk na Sondag 12 waar die amp van die gelowige ter sprake kom, naamlik dat ons deel het aan Christus wat as Profeet, Priester en Koning die amp vervul het.

Ons wil dan vandag stilstaan by die eerste van hierdie drie ampte wat ons in die Ou Testament vind, nl. profeetskap. En hoewel ons die profete ken in die Ou Testament, het die profeetskap nie begin by een van die amptelike groot profete soos Jesaja of Esegiel of Daniel nie. Nee broeder en suster, die profeetskap sien ons het `n besondere ontstaan by die persoon van Moses. Tog was daar reeds voor Moses profesie, maar die instelling van die profete amp, vind ons hier by die mees besondere van die profete in die Ou Testament.

In die teksgedeelte het ons gelees hoe daar voor die verduideliking van die profetiese amp `n waarskuwing gerig word, waarin die HERE die walglike afgodry van die Kanaaniete bekend maak. Dit is om te waarsku dat God se profesie nie in dieselfde lig beskou moet word as hierdie afgodery nie. Met die heidense godsdiens is dit waar die mens `n bonatuurlike openbaring van `n goddelike wese soek, maar met profesie is dit die bekendmaking van God aan die mens.

Hierdie profesie, of profeet, in die Hebreeus met woordjie wat hiervoor gebruik word, NABI,  dui op “verkondiging”. Dit is dus `n uitspraak wat gemaak word met in ag neming van die verlede en betrekking het op die hede en toekoms. Dit is `n persoon wat namens God spreek. Inderwaarheid is hy die mondstuk van God. Ons kan dus se, God openbaar Hom deur die mond van die profeet.

Die taak dan van die profeet is om in verband met hierdie verhouding tussen God en mens reg op te tree. Net so moes die profete ook salf. In besonder dan die konings. Die enigste profeet wat gesalf was, was Elisa, en dit op bevel van God. Maar deurentyd moes die profete salf as teken dat die Woord die salwing bring. Deur die Woord word daar gesalf as teken van die werking van die Gees. Want die Woord en die Gees werk nie los van mekaar nie. Dit gaan oor die openbaring van God aan die mens.

Dit is hierdie self-openbaring van God wat in die boodskap van die profeet is, naamlik die verkondiging van die agenda van God. Wanneer ons die konteks van die profeet in ag neem, gaan die profesie van die profeet nie oor sy omstandighede en die ervarings wat hy gehad het aangaande die profesie nie, maar oor die opdrag wat hy ontvang het om die boodskap oor te dra.

Hierdie profeet is nie iemand wat self besluit om namens God te praat nie, God self stel die profete aan. In vers 15 en 18 se die HERE dit baie duidelik, `n profeet uit jou midde sal ek wek. Dit is dus die HERE wat `n profeet roep en aanstel, en Hy doen dit deur die werking van die Heilige Gees.

En nou moet ons onthou broeder en suster, hierdie aanstelling van die profete gebeur aan die begin van die geskiedenis van Israel, die verbondsvolk van die HERE. Daar was nog geen geskrewe Woord van God nie.

Hulle het pas uit Egipte weggetrek en is maar nog in hulle babaskoene. Hulle volkskap, die feit dat hulle as volk uitgelei is, is op grond van God se verbond. Hierdie verbond is die middelpunt waaroor alles handel, naamlik dat God vir hulle `n God is, en hulle sy volk.

Die doel van die verbond is eenheid. God wil in eenheid met sy kinders woon. Hy wil vir hulle `n Vader wees. Daarom verskyn Hy aan hulle om hulle te leer hoe hulle Hom moet liefhe. Daar op die berg Sinai verskyn God in `n wolk aan hulle, maar dit is te erg. Die volk kan nie voor die HERE bly staan nie.

Daar moet iemand tussen die HERE en die volk staan. Daar is dus `n skeiding tussen God en sy volk. En dan kom die genade, die HERE roep vir Moses om as middelaar op te tree tussen God en sy volk.

So beskryf Moses verder in die gedeelte en so ook in Eksodus 20 en Deuteronomium 5 om te verduidelik waarom hy as middelaar tussen die HERE en die volk moes gaan staan. Die volk het gesien hoe God in sy majesteit verskyn met donderslae en weerligte, en dit het hulle bang gemaak sodat hulle nie voor die HERE wou verskyn nie.

Daarom het Moses tussen die volk en die HERE gaan staan, en as `n middelaar opgetree, dit is as `n boodskapper. Die HERE het dan so deur Moses sy boodskap aan die volk gegee. Moses moes dan net soos die speletjie telefoontjie, die korrekte woorde weergee wat God aan hom gese het.

En dan gee die HERE ook sy geskrewe Woord deur die tien gebooie. So openbaar God Homself as Wetgewer deur die profeet Moses.

Dit is nie die wet van Moses nie, maar die wet van God. Moses is die boodskapdraer. Hy se wat God gese het. En dit maak die taak van profesie so besonders. Want dit kan nie vir altyd aanhou nie. `n Profeet is maar `n middelpersoon wat die gebroke verhouding tussen God en mens moet oorbrug. Maar solank as wat daar `n profeet is, beteken dit dat die verhouding tussen God en die mens nie herstel het nie.

Vir hierdie verhouding om te herstel, moet God self die profeet, die Middelaar word. As God die Middelaar is, dan is daar geen skeiding meer tussen God en die mens nie. Daarom spreek Hebreers 1:1-2 nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.

Deur die Seun van God is daar geen skeiding meer tussen God en sy volk nie, daar is geen profeet meer nodig nie, want die Groot Profeet het gekom. Hy het die skeiding tussen God en mens herstel, sodat daar weer eenheid tussen God en sy kinders kan wees. Met die profete in die Ou Testament het die Heilige Gees gekom en gewerk, maar weer gegaan. Maar met Christus het die Heilige Gees soos `n duif uit die hemel neergedaal en op Hom gebly.

Dit is Hy wat aan ons as die Hoogste profeet gestuur is! Jesus Christus self is die Woord van God wat vlees geword het. Hy is die volle openbaring van die raad en wil van God. Hierdie Middelaar is die Een wat self die Woord genoem is. Hy is nie Een wat namens God praat nie, maar Hy Self praat as God. Hy is die Woord.

In Hom vind die vervulling plaas van die die Profetiese amp, want Hy is die Hoogste Profeet. Sy Woord is wet! Want Hy is die Wetgewer.

As ons as kerk van die Nuwe Testament kyk na profesie, mag ons nie vanuit ons voorveronderstellings onsself dwing tot die Ou Testament alleenlik nie. Ons moet die volheid van die Skrif aanskou, tota Scriptura, dit is om die wese van God te benadruk omdat dit sy werke voorafgaan. God was reeds daar voordat Hy Homself geopenbaar het.

As God Homself dan openbaar, moet ons hierdie openbaring aanvaar soos God dit gee. En mag nie die heiligheid en volkomenheid daarvan in twyfel trek nie(NGB Art. 7).

Verder mag ons die Ou en Nuwe Testament nie van mekaar skei nie, maar moet hulle wel van mekaar onderskei. Dit is dat ons die Ou Testament in die lig van die Nuwe Testament en die Nuwe Testament in die lig van die Ou Testament lees.

Hierin sien ons die Messiaanse verwagting as grondbeginsel vir die hele Ou Testamentiese profesie omdat profesie handel oor die openbaring van die wese van God in sy Drie-Enigheid.

Hierdie trinitariese openbaring word verder bevestig in die belydenis van Nicea aangaande die Heilige Gees naamlik dat Hy deur die profete gespreek het. Dit vind ons in aansluiting by die getuienis van Amos naamlik dat die Here HERE niks doen tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte die profete geopenbaar het nie

So het God dan deur die werking van die Heilige Gees aan die profete sy Woord bekend gemaak. Die outeurskap van die profesie kan ons nie aan die profeet toeskryf nie, maar aan God deur die werking van die Heilige Gees.

As ons hierdie benadering trinitaries doen, kan ons sê dit is Christus wat Homself openbaar deur die profete. Want, sê Johannes 1:18 niemand het die Vader ooit gesien nie, behalwe die Seun wat in sy boesem is en Hom verklaar.

God stuur profete om sy Woord bekend te maak en die volk mag alleen gehoorsaam wees aan die waarheid. Hulle mag nie luister na iemand wat hulle wil verlei nie, so persoon wat afval verkondig moet doodgemaak word. God straf valse leer. Hulle moet deur die dood die kwaad uit hulle midde uitroei.

En as die HERE sy profeet stuur en sy Woord bekend maak, dan moet jy daarna luister, want as jy nie luister na die Woord wat dei profeet bring nie, dan luister jy nie na God nie. En as jy nie na God luister nie, dan sal Hy self van jou rekenskap eis.

Want God se liefde is nie sonder geregtigheid nie en God se liefde is regverdig. Daarom moet die kinders van God gesuiwer word deur die waarheid. Maar die valse leer is vir die ware gelowige nie iets om te vrees nie, want dit is die wyse waarop God die gelowiges beskerm. Wie dit ook al mag wees, `n profeet of dromer, `n predikant en ook `n hooggeleerde prof, selfs `n engel uit die hemel, moet getoets word aan die woord van die God.

God is `n Enige God, en afgodsdiens word nie geduld nie.

Daarom het Christus gekom. Hy was die grootste toets vir die volk. Hy het nie soos `n valse profeet gekom nie, maar in die waarheid. Hierdie waarheid word die toets vir die volk en vir die ganse mensdom. Hy is die hoeksteen wat die toets is vir waar en vals.

Hy is die een wat die stad Jersusalem ingegeaan het op die gejuig van “Hosanna”. “Ons Verlosser is hier” maar Hy is die Een wat verwerp is, wat die stad moes verlaat met die woorde: “kruisig Hom”

En so stuur God ook beproewinge oor ons pad om ons te toets. So word dit ook in die Nuwe Testament deur ons Here Jesus self verkondig! In Matteus 24 hoor ons dat daar valse Christusse sal kom en groot wonders en tekens doen, om selfs as dit moontlik was, die uitverkorenes te verlei.

En ons het baie verdraagsaam geword teenoor verdwaalde leer. Ons skep so maklik `n vaandel vir die kettery dat ons se maar ons Christelike kerke moet saamstaan. Al doen jy wat verkeerd is in die oe van die HERE en waarvan Hy sal rekenkap eis. Ons moet bestraf, vermaan en weerle.

2 Petrus 2 praat van valse leraars wat verderflike ketterye sal invoer om die volk te verlei. En so ook hoor ons die waarskuwing in 2 Tessalonisense 2 dat daar sommige sal wees wat volgens die werke van die Satan handel. Hulle sal kragtige dade en tekens doen van die leuen. En daar sal mense wees wat die liefde vir die waarheid nie aanneem om gered te word nie.

“En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo,  sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid. “

 

Ja geliefdes, daar is valse predikers kom. En die HERE sal die wat die leuen glo, oorgee dat hulle geoordeel word. Ons weet dat die grootste vals profeet ook aan die kom is. Hy is die antichris wat die kinders van God wil verlei.

So kom die vraag ook tot by u en my… Is u gewillig gehoorsaam aan die Woord van God?

Het u God werklik lief met hart en siel? Is sy Woord die hoogste gesag in u lewe? Of luister u eerder na die getuienis van profete wat tekens en wonders aankondig. Sal u eerder honderde kilometers agter profete aanry as om Sondag na die Hoogste Profeet te luister?

Wat is daar in u lewe wat u bo die gesag van die Woord van God stel? Wat is daar in u lewe wat die Here u beveel en u nie doen.

Maar ons moet ook vra: Hoe lyk die woorde wat ons praat. Want deur Christus is ons nou ook profete. Hoe lyk dan ons woorde, gedagtes en dade… Is die woorde wat ons praat, waar of vals. Is die dinge wat ons dink en doen, reg of verkeerd. Kan ons met vrymoedigheid die woorde van Efesiers 4 op ons van toepassing maak dat ons genade verkondig. Of is daar net haat en afguns?

Daarom geliefdes, moet ons weer onsself gaan ondersoek in die lig van die Skrif. Ons moet weer gaan na die volle openbaring van God in sy Woord eur sy Seun. En daar moet ons die ou mens afsterf en ons met die nuwe mens beklee.

Want ons Here is besig om die bruid bymekaar te roep. En ons moet luister na sy stem. Want Hy alleen is die Woord die Weg en die Waarheid.

Laat ons dan nie beskaamd staan sonder olie in die lamp as die Bruidegom kom nie,

AMEN

Posted by: amandeltak | Februarie 3, 2010

Laerskooljeug

Ons laerskooljeug is die boustene van die toekoms. Daarom geniet ons dit om bymekaar te kom, om pannekoek te bak, pizza`s te maak, om donkie te speel en lekker saam te kuier.

Onthou om die kalender dop te hou vir ons volgende saam kuier

Posted by: amandeltak | Februarie 3, 2010

Orrel ingebruikneming 31 Januarie 2010

Dit was voorwaar `n feestelike geleentheid die afgelope naweek met die amptelike in gebruikneming van ons nuwe orrel. Ons dankbaarheid teenoor die Here kan nie in woorde se hoe ons voel nie, en daarom wil ons elke Sondag in die erediens juis deur ons sang dit doen.

Ons het ook die voorreg gehad om van die gemeentelede van die GK Nelspruit saam met ons te he wat ons ook in besonder waardeer het.

Mag die Here ook in ons sang en lied geloof en geprys word!

Posted by: amandeltak | Februarie 1, 2010

Hoerskooljeug

In Augustus 2009 het ons as hoerskooljeug gaan kamp by die Renosterkampterrein in die Lugmagbasis Wildtuin. En was dit nou vir jou lekker. Ons het gesels oor jongmens-wees in `n veranderende tyd met al die vrae en uitdagings wat die wereld bied.

Vrydagaand het ons almal gou saamgewerk om die kamers in te ruim, die donkies te stook en solank die pot aan die kook te kry. Na die ete het ons saam godsdiens gehou en lekker gesels om die kampvuur.

Soos dit moes wees, het almal maar “varkie-aand” gehou, want dis tog net een aand…

Volgende oggend is ons weer vroeg op met `n sterk koffie en `n beskuit om te help wakker word. Ons het weer `n tema bespreek waarna ons ontbyt geniet het.

Nadat ons opgeruim het, het ons vir `n laaste maal so bietjie gepraat oor die jongmens se pad vorentoe. Ons het tot die konklusie gekom, dat die lidmate mekaar nodig het, so ook ons jongemense. Daarom was dit nie die laaste keer wat ons so gekuier het nie.

Tot `n volgende keer!

Au voir

Posted by: amandeltak | Februarie 1, 2010

Efesiers 5 – Sang

Gereformeerde Kerk Hoedspruit

Sondag 31 Januarie 2010 (Orrel ingebruikneming)

Ds. LJE Venter

Titel:                Loof die Here

Tema:              Die HERE is my Psalm en lied

Teks:               Efesiers 5v8-21

Teksvers:        vers 19-20

Psalms:           Ps. 147:1, 3

                        Ps. 118:1, 7 en 12

                        Ps. 98:1, 2 en 3

                        Ps. 47:1, 3 en 4

Inleiding

Geliefdes van ons Here, op hierdie dag is dit met groot dankbaarheid dat ons hier saam is, omdat daar `n voorreg ons gegun is om die Here met die begeleiding van `n orrel kan loof. Ons het die voorreg om deur instrument begelei te word sodat ons lofsange kan sing tot eer van God.

Want God wil he dat sy kinders Hom besing. Die ganse skepping met die lof van God besing, daarom is die skepping daar. Dit moet die eer van God verkondig! En watter meer gepaste wyse is daar as deur lofsange?

Almal van ons weet watter geweldige krag is daar in musiek. Dink maar hoe `n lekker ritmiese deuntjie jou in `n goeie stemming kan bring, of hoe `n swaar stuk musiek jou skoon morbied kan maak…

Want musiek omvat die menslike emosie. Dit is om in woorde en klanke jou emosie te weerspieel. Musiek gee jou gemoedstemming weer. Dit vertel hoe jy voel en dit gee uitdrukking aan alles wat binne jou onderdruk word.

Die Reformator Luther se van musiek: dat niks op aarde kragtiger is om treurendes op te vrolik, die vrolikes treurig te maak, die moedeloses nuwe krag in die hart te gee en die hoogmoediges tot deemoed te bring, die onstuimige en oormatige liefde te stil en te demp, die nyd en haat te verminder nie…

Soms kan `n deuntjie of liriek jou die heeldag lank laat neurie. Dit beklem jou en bemoei jou vanuit jou hart. Want wat die hart van vol is, loop die mond van oor… Maar die mens moet versigtig wees wat in sy hart omgaan. Die mens se hart en gedagtes bedink maar so gereeld bedrog. Net so kan musiek jou vasvang in `n wurggreep van die dood.

Die duiwel weet baie goed watter mag daar in musiek is, en hy gebruik dit om die mens in opstand teen God te bring. Dink maar aan sommige musieksoorte soos rock-musiek wat `n geskreeu en geraas `n herhaal van woorde is wat jong seuns laat moord pleeg met swaarde by die skool…

Maar waarom is daar musiek? En waarom moet ons sing? En waar kom kerkmusiek vandaan?

In die gedeelte in Efesiers en so ook in die parallelle gedeelte in Kolossense 3 lees ons van die woorde van die apostel Paulus aan die gemeentes waar daar gepraat word oor die belangrikheid van sang.

En die apostel weet ook hoe die godsdienste van die tyd gehou word. Daarom rig hy hom spesifiek tot die gemeentes om aan hulle voor te skryf op watter wyse hulle in die gemeente moet optree. Dink maar aan die gemeente in Korinte, hoe hulle daar gesukkel het met die misbruik van die Nagmaal, en die afgodsoffers en selfs met die spreek in tale. So ook in Galasiers hoe daar die ou wette naas die evangelie gevolg is en dan ook so hier in Efesiers.

Hoofstuk 4 en verder vermaan die apostel die gemeente om waardig in hulle roeping te wandel, wees nederig en leef heilig. Die werke van die ou mens moet afgele word en die nuwe mens moet beklee word. En dan so ook in hoofstuk 5: “Wees navolgers van God soos geliefde kinders, en wandel in die liefde soos Christus ons ook liefgehad het.”

Beproef wat goed is, en bly weg van die werke van die duisternis! Want as jy in die lig wandel, is daar niks om weg te steek nie. Wees verstandig en verstaan die wil van die Here! So moet die gemeente van die Here wandel, in die soeke na die wil van God!

En dan kom die opdrag baie spesifiek na die gemeente: Moenie dronk word van wyn nie, maar word vol van die Heilige Gees. Moenie dronk word en in `n beswyming gaan en allerhande onsinnigheid kwyt raak nie, maar word vervul deur die Gees.

Dit is `n opdrag van die HERE. Die kerk moet vervul word met die Heilige Gees sodat hulle God kan ken en Hom kan liefhe en Hom kan dien met hulle hele hart.

Maar hoe word jy vol van die Heilige Gees? Dit weet ons almal tog so goed, dit is deur die Woord van God. Want die Woord en die Gees werk nooit los van mekaar nie. Die Woord werk nie sonder die Gees nie, en die Gees werk nie sonder die Woord nie.

As die Woord dan ryklik in ons woon, dan is ons vervul met die Heilige Gees, en as ons vol is van die Heilige Gees, dan woon die Woord van God oorvloedig in ons. Die Gees is die Gees van die Woord, en die Woord is die Woord van die Gees.

Wie dan Gees-vervuld is, is Woord-vervuld, en wie Woord-vervuld is, is Gees-vevruld.

So moet die Kerk dan altyd deur nie deur wyn dronk word nie, maar deur die Woord, Gees vervuld word.

Hierdie Woord weet ons is Christus. Hy is die Woord wat vlees geword het. Dus kan ons se, dat Christus in ons moet woon deur sy Woord en Gees.

Hoe moet die kerk dit doen?

Deur onder mekaar te spreek met psalms, gesange en Geestelike liedere. Hierdie Spreek kan ons ook sien as sing!

Die kerk moet sing tot eer van die Here. Loof die HERE o my siel en alles wat binne my is. Loof sy Naam in sang en lied met psalms en gesange!

Nou moet ons baie mooi oplet na die oorspronklike taal, sodat ons nie die bedoeling van die woorde gebruik as `n direkte toepassing op ons verstaan van die woorde nie. Hierdie woorde in die griekse taal verwys na die Hebreeuse woorde soos opgeteken in die Griekse Ou Testament. Hierdie drie terme bedoel nie drie verskillende liedere nie, maar wys heen na `n tipe van lied, nl. Geestelike liedere. Dit is liedere van die Heilige Gees.

Daar moet dus Psalms en gesange gesing word wat liedere van die Heilige Gees is. Dit is liedere wat geinspireer is. Daarom staan daar: sing hierdie liedere, nie maak hulle nie. Hulle moet gesing word, want hulle bestaan reeds. Dit is die liedere wat opgeteken is in die Woord. Want alleen in die Woord vind ons dit wat geinspireer is deur die Heilige Gees

Hierdie geinspireerde liedere is `n skatkis wat deur God self aan ons gegee is. En waar vind ons meer gepaste liedere wat die totale emosie van die mens omskryf as in die boek Tehilim, of soos ons dit ken Psalms. Dit is die boek van lofliedere waarin daar Psalms en gesange is. Deur Dawid en Asaf, Salomo, Moses en Korag vind ons hierdie samestelling van gedigte, liedere, onderwysings en gebede. Dit is liedere wat deur die Heilige Gees geinspireer is. Daarom verwys Jesus in Lukas na hierdie boek. Die Psalms getuig van My!

Die lofliedere boek in die Ou Testament, die Psalms, getuig van Jesus Christus. Daarom moet ons hierdie liedere en Psalms sing. Want dan sing ons van Christus. En as ons die Woord sing, dan verkondig ons die Woord, dit is Christus. Dan word ons vol van die Heilige Gees.

Dan alleen kan ons die Here waarlik uit ons harte besing in sy lof. Want se Psalm 22:4 Die Here woon in die lofsange van Israel.

Wat `n wonderlike gedagte is dit nie? Die Here woon in die lofsange van Israel. En as ons die lofsange sing sing ons die Here.

Daarom geliefdes, kan ons verheug wees ook op hierdie dag, want ons kan sing en Pslamsing. Ons sing van Christus, Hy wat in die Psalms verkondig word. Hy is ons Psalm en ons lied

En net soos die opdrag dit stel, kan ons dit doen met dankbaarheid. Want ons moet God altyd vir alles dank. Ons moet dankbare lofgesange sing in die Naam van Ons Here Jesus Christus.

Maar weet u wat is so besonders van hierdie lied van die Heilige Gees. As die kerk die Woord sing, dan sing die engele saam, want hulle ken die Woord. Elke maal as die gelowiges bymekaar kom dan is daar `n leerskare engele rondom die gelowiges om hulle te beskerm en saam met hulle te sing.

Ja geliefdes, u lofstem gaan nie net tot by die dak nie, dit weerklink die hemele oor! Elke lofsang weergalm en basuin tot in die hoogste hemele!

Maar as die kerk nie die Woord sing nie, kan die engele nie saamsing nie.

Geliefdes, nou kan ons ook vir mekaar vra: Wat sing ons? Watteer liedere sing ons as ons saamkom? Sing ons die Woord van God omdat ons vol is van die Heilige Gees? Of sing ons liedere van die mens wat handel oor die Woord.

Wat sing jy in jou hart? Sing jy die Woord? Of sing jy maar net omdat jy moet sing, omdat almal maar sing? Sing jy wat vir jou maar lekker en goed is?

Of sing jy die lied van die Heilige Gees in dankbaarheid wat net soos die Woord nie in tyd sal vergaan nie?

Hierdie lied is die lied van die Triomferende kerk. Op. 14:3 leer die Heilige Gees ons dat al die uitverkorenes `n nuwe lied sal sing. Dit is die lied van die Lam wat waardig is om die boek van God se oordele te kan oopmaak.

Verder lees ons van die lied wat gesing sal word in die nuwe Jerusalem soos dit opgeteken is in Openbaring 19:1-10  En ná hierdie dinge het ek iets soos ‘n groot stem van ‘n groot menigte in die hemel gehoor wat sê: Halleluja, die heil en die heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God! Want sy oordele is waaragtig en regverdig; want Hy het die groot hoer geoordeel wat die aarde met haar hoerery verderf het, en Hy het die bloed van sy diensknegte op haar gewreek. En vir die tweede maal het hulle gesê: Halleluja! En haar rook gaan op tot in alle ewigheid. En die vier en twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het neergeval en God aanbid wat op die troon sit, en gesê: Amen, Halleluja!  En ‘n stem het uit die troon uitgegaan en gesê: Prys onse God, al sy diensknegte, en julle wat Hom vrees, klein en groot! En ek het iets gehoor soos die stem van ‘n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar. Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.

 

So kan ons uitsien om saam met al die heiliges en al die engele in lofsang uit te breek en God tot in alle ewigheid te prys as sy bruid. Klein en groot moet die Here se lof besing!

En hoe heerlik is hierdie uitsig nie? Daar waar ons in alle glorie die Naam van ons Here kan uitroep in volkome dankbaarheid.

Psa 103 Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie! Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees, wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede, wat jou siel versadig met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos dié van ‘n arend. Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. Die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders, vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen.  Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles. Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord! Loof die HERE, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen! Loof die HERE, al sy werke, op al die plekke van sy heerskappy! Loof die HERE, o my siel!

AMEN

Kategorieë